12/05/2026
✨ Van Bonnievale tot op see 🛳
My naam is Janke Brink. Ek het in Bonnievale grootgeword en ook daar skoolgegaan. Vandag werk ek as ’n skoonheidsterapeut op ’n passasierskip, die Disney Destiny, wat tussen Amerika en die Bahamas vaar — iets waarvoor ek ongelooflik dankbaar is.
Ek was in Hoërskool Bonnievale en het in 2020 gematrikuleer. My matriekjaar het saamgeval met die begin van Covid-19, wat beslis een van my grootste uitdagings was. Geen buitemuurse aktiwiteite nie en ’n totaal veranderde skoolomgewing het baie aanpassing vereis — veral vir iemand wat lief is vir sport. Tog het ek aangehou deurdruk, en dit was ’n ongelooflike hoogtepunt om my matrieksertifikaat te ontvang, selfs onder sulke moeilike omstandighede.
Na skool het ek aanvanklik BA Taal en Kultuur by Stellenbosch Universiteit begin studeer, maar ek het vinnig besef dis nie waar my hart lê nie. Om van kursus te verander was uitdagend, maar dit het my gelei na Somatologie by die Isa Carstens Akademie in Stellenbosch — een van die beste besluite wat ek nog geneem het. In 2024 het ek my Diploma in Somatologie ontvang, en tydens my gradeplegtigheid is ek ook aangewys as Top Teorie Student in my jaargroep.
Gedurende my studies het ek wonderlike mense ontmoet en lewenslange vriendskappe opgebou. Ek was ook baie bevoorreg om ’n sterk ondersteuningsnetwerk te hê — my familie en vriende, maar ook Bonnievale418, wat my gehelp het met studieverwante vrae, beurse en gereelde bemoediging, selfs terwyl ek op universiteit was.
Aan die einde van matriek het ek 4 onderskeidings behaal en ’n A-gemiddeld ontvang. Vandag gee my werk op ’n passasierskip my die geleentheid om ervaring op te doen, die wêreld te sien, nuwe mense te ontmoet en kosbare herinneringe te maak.
💡 ’n Wenk vir huidige studente:
Doen deeglike navorsing voordat jy besluit wat om te gaan swot — dis ’n groot besluit. En leer ook om dinge dag vir dag te vat. Moenie môre se stres vandag jou vrede steel nie.
🌱 Laastens:
Lewe bring uitdagings, maar soos my ouers altyd sê: moenie ’n berg van ’n molshoop maak nie. Daar is altyd ’n oplossing — moenie moed opgee nie.
📖 Filippense 4:13 —
“Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”
✨🙏