30/03/2026
Ontmoet ons nuwe kunstenaar op die dorp – Elsa Schultz! Ons het vinnig ingeloer by Elsa, ’n talentvolle kunstenaar wat nou in Brandfort kom wortelskiet. Hier is wat sy self te sê het:
1. Wat het jou laat besluit om ’n kunstenaar te word?
“My pa het ook geskilder—hy was nie voltyds nie, maar dit het my van kleins af geïnspireer. Kuns was nog altyd my passie. Ek het dit eers deeltyds gedoen, en toe in 2017 voltyds begin. Van toe af is dit my elke dag-fokus."
2. Hoe sal jy jou styl beskryf?
“My kunsstyl was nog altyd bietjie Naïef. Ek het later meer in Surrealisme ingegaan nadat een van my lektore daarin gespesialiseer het, so nou lê my styl tussen Naïef en Surrealisme, met ’n tikkie ekspressionisme. My werk word ook uitgestal in gallerye in Johannesburg en Kaapstad.
Ek was ook vir so 7 jaar in ’n vennootskap waar ons ons eie olieverf gemaak het uit natuurlike pigmente soos klip en boomwortels—daardie vennootskap en besigheid het my baie laat groei as kunstenaar.”
3. Wat het jou na ons dorp toe gebring? Vertel 'n bietjie van jou planne?
“Ek is nie ’n stadsmens nie—ek hou van ’n klein dorpie waar mense mekaar ken. Ek het al baie rondgetrek, maar ek wil nou bietjie 'settle.' Brandfort het ’n lekker gemeenskapsgevoel en is naby aan die stad. Ek het ook al voorheen bande met die dorp gebou — my dogter was vir ’n ruk hier in die koshuis en op skool. Wat vir my óók baie interessant is, is die geskiedenis hier — dat een van Vincent van Gogh se broers hier begrawe is in ’n ongemerkte graf. Dit maak dit vir my as kunstenaar nogal besonders. Toekomsplanne: ek wil my plekkie maak, inskakel by die 'community' en Olieverf-kunsklasse in Brandfort aanbied.
Ek was lank ’n 'gypsy,' ek het baie rondge'travel'—dis ook waar die bynaam “The gypsy artist” vandaan kom, maar ek voel dis nou tyd om 'n bietjie wortel te skiet en regtig deel te word van die dorp.”
So, as jy belangstel in kunsklasse of meer van Elsa se werk wil sien, laat gerus kommentaar hieronder. Gaan volg ook ons blad Beautiful Brandfort vir nóg interessante inligting oor ons dorp!
-Hierdie insig is verkry uit ’n onderhoud met Elsa Schultz, gevoer deur die administrateur van die Beautiful Brandfort-Facebookblad