19/06/2026
Die Groot Kos-Krisis
Jy smag na die sogenaamde "rustiger lewe" vir jou en jou gesin. Jy is gatvol vir die stadsverkeer en die konstante gejaag laat jou voel soos ’n hamster op ’n stukkende oefenwiel.
So, wat doen jy? Jy pak jou hele aardse bestaan op, koop ’n huis in die platteland, ontwortel jou kinders (wat jou aankyk asof jy hulle pas aan die sirkus verkoop het) en gaan plant jouself in ’n klein dorpie waar die hoofstraat korter as ’n gemiddelde supermarkrak is.
Aanvanklik is dit pure saligheid. Die lug is so skoon dit laat jou longe skrik en die voëltjies fluit jou elke oggend wakker. Maar dan tref die realiteit jou soos ’n koue nat vis in die gesig: die plaaslike algemene handelaar se idee van "eksotiese kookkuns" is ’n blikkie weense worsies en gevriesde gemengde groente wat reeds sedert die vorige eeu in die vrieskas lê. Jy begin dadelik kwyl as jy net d**k aan Woolworths se ready-made lasagne of Checkers se Sixty60-afleweringsmanne wat soos ridders op blink fietse deur die stad jaag.
Jou nuwe godsdiens word die Maandelikse Groot Dorp-Pelgrimstog. Een keer ’n maand pak jy die pad aan na die naaste "beskawing" (wat eintlik net ’n groter dorp met verkeersligte is). Jy ry daardie pad met die toewyding van ’n pelgrim op pad na ’n heilige tempel, want daar wag die beloofde land: ’n Woolies én ’n Checkers.
In die begin d**k jy nog by jouself: "Kyk net hoe lank hou my brandstof nou!" Jou kar se petrolwyser beweeg stadig. Maar helaas, die winterkwartaal breek aan, en saam met hom die gevreesde wintersport. Skielik ry jy meer kilometers as ’n deursnee-interprovinsiale busbestuurder om die kinders by elke wedstryd op elke liewe buurdorp te kry. Jou beursie huil bloed by die vulstasie, maar jy kla nie. O nee, jy glimlag soos ’n kat in ’n vismark, want elke wegwedstryd is mos nou die perfekte, wettige verskoning om "groot dorp toe" te gaan en die Checkers-rakke kaal te stroop.
Jy begin jou hele maandelikse spyskaart, kruideniersware en die gesin se oorlewing beplan rondom watter skool Saterdag teen wie speel. Jy is ’n logistieke genie; Napoleon kon by jou kom leer het.
En toe tref die ramp.
Die derde kwartaal breek aan. Jy maak die sportkalender oop en jou hart gaan staan. Al die sportdae... is TUIS. Geen wegreise nie. Geen groot dorpe nie. Niks.
Skielik is jy heeltemal uit jou gemaksones uitgewerp. Jy bevind jou in ’n emosionele woestyn sonder ’n Woolies-oase op die horison. Jou maniere om weg te glip is skoonveld. Jy kan mos nou nie vir jou man en kinders vertel jy ry tweehonderd kilometer net vir ’n bakkie oondgebakte aartappels en ’n sjokoladekoek sonder dat hulle die manne in die wit jasse bel nie.
Nou sit jy maar op jou stoep, kyk hoe die plaaslike windpomp traag in die rondte draai, en maak vrede met jou plattelandse keuse. Jy aanvaar dat die lewe hier dalk stadiger is, dat die bure alles van jou weet voor jy dit self weet, en dat ’n besoek aan Woolies en Checkers nie meer ’n basiese mensereg is nie, maar verhef is tot ’n luukse bederfie – amper soos Kersfees, maar net met beter verpakking.