05/09/2026
Gimmies verwelkom Jaryd Hammond as nuwe Hokkiedirekteur.
Met meer as tien jaar ervaring, betrokkenheid by verskeie provinsiale spanne, asook sy rol op die Noordwes sekondêre skole-hokkiekomitee, bring Jaryd jare se kennis en ervaring na Gimmies.
Vir Jaryd was Potch Gimmies ’n natuurlike keuse: “Gimmies is al jare lank die voorste hokkieskool in Noordwes. Ek sien daarna uit om die program verder te ontwikkel en dit onder die beste in die land te vestig.” Sy visie is duidelik – om Gimmie-hokkie verder uit te bou tot een van Suid-Afrika se top hokkieprogramme, met spelerontwikkeling as die kern van alles wat gedoen word.
Vir die komende seisoen fokus hy daarop om ’n sterk hokkiekultuur te vestig en spelers én afrigters te ontwikkel om die grondslag vir langtermynsukses te lê.
Die waardes wat hy graag by spelers wil vestig, is dissipline, selfvertroue en uitnemendheid – met die fokus op voortdurende groei en verbetering.
Jaryd sien die meeste uit na die uitdaging wat voorlê: om homself, sy afrigters en sy spelers te motiveer om elke dag beter te word.
Ons sien uit na hierdie nuwe hoofstuk vir Gimmie-hokkie en wens Jaryd alle seën, wysheid en voorspoed toe vir die seisoen wat voorlê. Mag dit die begin van ’n besondere tydperk vir Gimmie-hokkie wees.
GSOK Gimmie-sport Ondersteunersklub